Wednesday, 20 February 2013

Suikerbekkie Suigplek -Kortpad

Raad aan alle potensieele en raadgewende suigplek-makers: Gebruik wat jy in die huis het. Myne is gemaak van 'n groen glasbottel; ek dink dit was toentertyd 'n Whiskeybottel , 'n 'tot measure'- van hierdie soort wat op die bottel se kop ingedruk word en dan so 'n dun piepiestraaltjie gooi, en 'n rooi Woolworthsak wat ek oopgesny en om die nek gedraai het Die tuit van die 'measure' het 'n dun repie Checkerssak omgekry en die luggaatjie aan die kant het ek toegemaak. Dis maklik om die plastiek skoon te hou en ook om dit met Sellotape vas te sit. Die skuinshang van die bottel het my man vir my gedoen met 2 stukke draad- een kant 'n hakkie gebuig om aan op te hang en die ander kant gedraai om die nek met die ene, en om die lyf met die ander- die draad skuif nie af nie, maar vir veiligheid het hy 3 korter draadjies gebruik vir die bottel om op te rus. Dis kopkant en gatkant vas aan die hangdraadjies wat die ene langer is as die ander , terwille van die skuinshang.
Dis belangrik om die bottel tjokenblok vol stroop  ( halwe koppie suiker op 2 koppies water- 1 kop warm vir oplos en een koud vir afkoel)   te maak voor prop opsit, want dit behou vakuumdrukking dat die suikerwater nie uitloop nie.
Daar is prentjies op die net, van plastiekbottels met gaatjie gemaak op die nek en plastiekstrooitjies wat in gaatjie op die bottel vas gegom is , maar my gom was op en ek was versigtig vir gom wat sterk ruik. Bottels moet een keer per week skoongemaak word om te keer vir siektes aan die suikerbekkies Ek ontsmet sommer met kookwater.
Die eerste besoekertjie was 'n glasogie en na 3 dae hoor ek die mooiste aaneen geroep-sing  en toe ek VERSIGTIG gaan kyk , is daar 5 -mannetjies en wyfies- suikerbekkies in die boom. Hulle is BAIE skugter en net die ene het gaan proe en toe is hul weg. Ek hou hul nou uit my woonkamer dop. Dis  die 2e dag en hul is minder skugter en maak beurte. ook met die kraal/witogies Vandag het ek die eerste wyfie gesien drink, dit was nog altyd net die mannetjie(s) wat die kans gevat het Ek dink as die suiger in die boom gehang het, sou hul makliker gaan drink het, maar dit hang aan die skadu-afdak in die oopte. Is so pas beloon met ene wat klaar gelek het en met nekkie agteroor gesing het. Dis 'n aaneen note-jodel deur die suiwerste goue fluit.
My geestesoog-prentjie was van die Suikerbekkie wat al vlerkklappend suig, maar ek sien hul sit ook agter die rooi "blom" en suig afwaarts in die .'tot-measure' se bekkie. So, terug na die internet om meer te lees en hul 'feeding habits' te bestudeer :)  

Suikerbekkie Suigplek

3 maande terug, op een van daardie dae wat jy nie lus is vir dit wat jy MOET doen nie, en uit weerwraak teen die LEWE wat jou dwing om soos die ESTABLISHMENT te doen en werk, op die INTERNET gevaar en begin soek na maniere om uit niks, iets te maak :)
 Om meer spesifiek te wees... om te kyk hoe om 'n goedkoop Suikerbekkie nektar reservoir :)( of in engels..Sugarbird feeder) , te maak Mens, is daar nou oulike en baie maniere om hierdie kat mee dood te slaan! So het ek afgelaai en in Word ge-copy en ge-paste  - heel selektief, want elke prentjie vreet bytes en my budget in MB is maar yl vir die maand!
My ma se gesegde van 'smee die yster terwyl dit nog warm is' het egter verby gegaan en 2 weke terug , met die vinkmannetjie wat kwetter en die mossies en kokkewiet op die gras en die spreeus en muisvoels aan takke pluk en bessies vreet in die Witstinkhout voor die deur, verlang my hart meteens met 'n hongerte na Suikerbekkies. Na die kleingeit en volmaaktheid en wonder van 'n veelkleurige juweel met vlerke en die sagte bruin-vaal van die wyfie saam tussen die plante. Om in verwondering te sien hoe hulle METEENS sommer net DAAR is.
Dis toe dat ek 'n onthou-merkie hier in my brein sit en die aand met daardie geluksalige voldane gevoel van skuif-in-die-bed en UITEINDELIK A.A.A., toe skiet daardie merkie  in op sy plek  en ek skiet uit my bed en gaan haal die skootrekenaar... Nou waar het ek nou weer daardie Birdfeeder-inligting gestoor?
Ken jy daardie gevoel van wanhopigheid as jy besef jy het nie 'n koekin kloe nie en jy het nooit besef HOEVEEL inligting jy al opgehoop het omdat jy dit LATER sou lees en deurwerk, maar nie het nie, omdat jy vergeet het?! Van VERGEET kan ek nog 'n hele boek skryf, maar ANNERDAG :))