Wednesday, 20 February 2013

Suikerbekkie Suigplek

3 maande terug, op een van daardie dae wat jy nie lus is vir dit wat jy MOET doen nie, en uit weerwraak teen die LEWE wat jou dwing om soos die ESTABLISHMENT te doen en werk, op die INTERNET gevaar en begin soek na maniere om uit niks, iets te maak :)
 Om meer spesifiek te wees... om te kyk hoe om 'n goedkoop Suikerbekkie nektar reservoir :)( of in engels..Sugarbird feeder) , te maak Mens, is daar nou oulike en baie maniere om hierdie kat mee dood te slaan! So het ek afgelaai en in Word ge-copy en ge-paste  - heel selektief, want elke prentjie vreet bytes en my budget in MB is maar yl vir die maand!
My ma se gesegde van 'smee die yster terwyl dit nog warm is' het egter verby gegaan en 2 weke terug , met die vinkmannetjie wat kwetter en die mossies en kokkewiet op die gras en die spreeus en muisvoels aan takke pluk en bessies vreet in die Witstinkhout voor die deur, verlang my hart meteens met 'n hongerte na Suikerbekkies. Na die kleingeit en volmaaktheid en wonder van 'n veelkleurige juweel met vlerke en die sagte bruin-vaal van die wyfie saam tussen die plante. Om in verwondering te sien hoe hulle METEENS sommer net DAAR is.
Dis toe dat ek 'n onthou-merkie hier in my brein sit en die aand met daardie geluksalige voldane gevoel van skuif-in-die-bed en UITEINDELIK A.A.A., toe skiet daardie merkie  in op sy plek  en ek skiet uit my bed en gaan haal die skootrekenaar... Nou waar het ek nou weer daardie Birdfeeder-inligting gestoor?
Ken jy daardie gevoel van wanhopigheid as jy besef jy het nie 'n koekin kloe nie en jy het nooit besef HOEVEEL inligting jy al opgehoop het omdat jy dit LATER sou lees en deurwerk, maar nie het nie, omdat jy vergeet het?! Van VERGEET kan ek nog 'n hele boek skryf, maar ANNERDAG :))


No comments:

Post a Comment