Tuesday, 26 February 2013

MET DIE DOOD.....

...leer ons ons eie onmag ken. Onmag om die wat agterbly te troos..- om onsself te troos. So vandag deel ek my onmag . . en dalk werk dit soos gedeelde smart : dis net die helfte so swaar.
Eintlik is dit my ma/moeksie/mams/mamma se onmag, want sien, sy is gehospitaliseer vir hidrasie, maar die  antibiotika het haar neurosisteme aangeval, en sy het verswak en gedeeltelik verlam huis toe gekom. Haar storie, met Tyd as spanmaat en Nie-opgee as 'coach' is 'n verhaal op sy eie. Alles het verbeter en reggekom, maar die 'short' tussen haar kop en mond het gebly. Sy is 3 jaar later oorlede.Die boek wat sy nog altyd wou skryf, die verhaal en geskiedenis van haar naam , die stories oor jonkwees en al die dinge wat ons graag wou weet, dis in haar kop toegeslaan en saam met haar in haar graf. Ek het haar aaneen gepes om weer te begin skryf en aanvanklik het haar oe geblink en het sy ingestem, maar elke keer wanneer ek vra hoe ver sy is, het sy net kop geskud en oor ander dinge begin praat.
Na haar dood, met die oppak kom ek op haar sakboekie af- lekker dik en gereed vir al die gedagtes . Op die eerste bladsy het sy in potlood begin. .en toe verstaan ek .

So ek skryf 'n Dankgebed by die dood van my Ma  -

Ek huil,
Mamma…omdat ek nou eers ‘n idée kry oor hoe dapper jy was-
Ek lees in jou sakboekie:
“Ek wens ek sal weer kan skrywe
Dae die woorde draai deurmekaar
Soms praat die sins
Sy wou boeke skryf en later sou net ‘n sms ook doen, dat sy haar liefde in woorde kon uitstuur. Aan die kleinkinders, en dan aan die kinders-maar sy kon nie- want die woorde het verlore gegaan tussen gedagtes en skrif. Haar taal was voorheen keurig, beskrywend en gevoelvol. Nou het sy met konsentrasie en moeitevol een enkelvoudige sin aanmekaar gepen…en onseker gewees of dit korrek is soos sy wou sê Ek het haar gevra om te skryf van haar lewe en jeug, en hierdie was die begin(..en die einde) van probeer Sy het die boekie stilweg neergesit en niemand met haar onmag belas nie.
By haar het kind en kleinkind leer hou van lees,maar nou het woorde in sinne hul begripskonneksies  verloor. Sy het ‘gelees’ deur boeke en tydskrifte op die Daisy cd-speler te luister- en tog het daar tydskrifte op die tafeltjie gelê, want sy lees dit. Soos sy haar kinders en kleinkinders geleer lees het, het sy haaself nou begin leer.
Die woorde het ook weggeraak tussen dink en sê. Sy het geleer om te luister na wat sy sê en dan die regte woord te verduidelik tot jy verstaan. Soveel moed, en deursettingsvermöe deurspek met fyn humorsin- want sy het saam gelag as die sin se betekenis deur een letter in die verkeerde woord,in ‘n platvloerse sêding verander.
Huil kon sy nie.Van kleinsaf het al haar trane en ween in haar keel vasgedruk en was daar geen uiting vir die smart in haar hart nie. Hoe sou sy dit hanteer as sy eerste moes gaan?
Dankie Vader dat U nie na my geluister het nie en haar kom haal het .Dat U gesê het “ Ek het nou lank genoeg gewag, kom saam met My”


No comments:

Post a Comment